Ontdek Kus-elegansie – jou Droomhuis in Menkenkop, Hartenbos

R 3 450 000

Spesifikasie
Kenmerke
Ingeboude Braai, Ingeboude Kaste, Teël Vloere, Gaste Toilet, Multi-vlak duet, Kombuis toegerus met ingeboude oond, kookblad en waaier, Lae-onderhoud siersteen met aluminium vensterrame, skuifdeure en balkonreling.
Beskrywing
Welkom by jou toekomstige woning in die hart van Menkenkop, Hartenbos, waar kuslewe en moderne gerief elegant inmekaar geweef word.

Hierdie bekoorlike eiendom met ‘n gevestigde tuin en die gerief van ‘n dubbele toesluitmotorhuis, bied ook volop addisionele parkeerplek op die geplaveide oprit.

Op die onderste vlak, sal jy alreeds bekoor word deur twee van die pragtige slaapkamers, elk met ‘n eie en-suite badkamer. Die een slaapkamer is perfek geleë om as ‘n huiskantoor gebruik te word, wat presies is wat die huidige eienaar doen.

Op die boonste vlak sal jy beslis in jou noppies wees met die moderne kombuis, aangrensend aan die leef- en eetarea, wat verseker dat die kok deel bly van die aksie. Met graniet werkoppervlakke, volop ingeboude kaste en ‘n gerieflike voorbereidingswasbak, is hierdie kombuis funksioneel sonder om styl in te boet. Die aparte opwaskamer/waskamer bied ekstra bergplek, die gerief van ‘n dubbele wasbak en ook genoeg spasie vir wasgoed toestelle.

Pragtige ligte en die warm aardse kleure van die vloere, wat deurgaans geteël is, skep ‘n verwelkomende atmosfeer. Die mure van al die badkamers en kombuis is smaakvol geteël, terwyl die slaapkamers en leefareas in ligte, neutrale kleure geverf is.

Die ruim hoofslaapkamer met ‘n en-suite badkamer, is ook op hierdie vlak geleë. Daar sal beslis nooit ‘n geveg uitbreek oor badkamertyd in hierdie woning nie! Met esteties aantreklike teëls en toebehore word elke lui-lekker borrelbad in een van die badkamers in ‘n luukse ervaring omskep. Al die slaapkamers het besonder baie, goed-ontwerpte ingeboude kaste in ‘n moderne houtafwerking.

Onthaal is ‘n plesier in die oopplan-kombuis, leef- en eetarea, wat gekomplimenteer word met ‘n ingeboude braai vir gesellige kuiers in alle weersomstandighede. Op warmer dae, kan jy die ingeboude braai op die balkon gebruik en ook die lieflike uitsig op die bergreekse in die agtergrond geniet. ‘n Gastebadkamer, naby die leef- en eetarea, verseker privaatheid en gerief vir jou gaste.

Hierdie gesinswoning, geleë in ‘n stil, gesogte woonbuurt, is die perfekte kombinasie van rustigheid en gerief. Dit is halfpad tussen die Hartenbos besigheidsarea en Langeberg Winkelsentrum geleë, en bied maklike toegang tot alle geriewe.

Ideaal vir gesinne met kinders, of as ‘n langtermyn huurbelegging, bied hierdie eiendom onbeperkte moontlikhede. Moet nie die geleentheid misloop om dit joune te maak nie—kontak ons vandag nog om ‘n besigtiging te reël en jou reis na ‘n kuslewe in Menkenkop, Hartenbos, te begin.
Marietjie
Marietjie Van der Vyver